Reg en Onreg: Kaapse regspraak in die agtiende eeu

Au$ 11.71

Product Code: 978-1-920429-12-6

Reg en Onreg: Kaapse regspraak in die agtiende eeu (HF Heese).

Oor die afgelope dekades was daar 'n hernieude belangstelling in die vroeë Kaapse samelewing asook sy kriminele verlede. Hofsake is die een van die belangrike bronne van inligting waaruit die daaglikse lewe van die agtiende eeuse inwoners van die Kaap herkonstrueer kan word. Dit geld veral vir die slawe. Die Kaapse hofrekords bied uiteraard 'n negatiewe beeld van die vroeë samelewing en het betrekking op burgers, Khoikhoi, San, Khoisan, slawe, Chinese en vryswartes. Verteenwoordigers van alle groepe wat hulle binne die Verenigde Oos - Indiese Kompanjie (VOC) se invloedsfeer bevind het, het in die hof op kriminele oortredings tereggestaan en is skuldig bevind aan 'n wye verskeidenheid van misdade. Ander verwante groepe wat hulle buite hierdie sfeer bevind het, het nie voor die Raad van Justisie in Kaapstad verskyn nie. Dit beteken natuurlik nie dat daar nie ook deur hulle misdade gepleeg was nie!

Indien slawe of Khoikhoi voor die hof verskyn het, was daar geen persone uit hulle stand om hulle te verteenwoordig nie. Hulle kon alleen hoop dat die regbank ‘n onpartydige oordeel oor hulle sou vel. Die feit dat die fiskaal 'n eed afgelê het waarin hy "sonder ooghluijkinge haar off gunst van ijemandt" sou optree, was nie altyd 'n troos vir 'n slaaf nie. Die slawe was immers 'n groep wat wetlik van feitlik alle regte en voorregte verstoke was. Met die lees van die hofsake in die agtiende eeu word die leser bewus van die harde en soms grusame vonnisse wat misdadigers opgelê was.

Die doel van hierdie studie is juis om die tydsgees van die agtiende eeu te belig deur uit hofsake aan te haal. Die hofsake weerspieël deur hulle inhoud dikwels die lot en lotgevalle van mense wat andersinds nooit in dokumente figureer nie. In hierdie opsig het die hofsake waarde vir die kultuurhistorikus. Ook die genealoog het belang hy hierdie hofsake deurdat die sterfdatums van vermoorde burgerlikes aangegee word asook inligting oor "voorzoons" en "voordogters" wat nie altyd in bestaande genealogiese werke verskyn nie. Dit verklaar ook die "afwesigheid" van sekere individue in die openbare lewe omdat hulle vonnisse op Robbeneiland uitgedien het.

Ter wille van diegene wat meer van 'n bepaalde persoon, misdaad of straf te wete wil kom, is twee addenda aangeheg waarin veroordeeldes se name in alfabetiese volgorde geplaas word en waarin die relevante bronverwysing verstrek word.

Die inhoudsopgawe, voorwoord asook 'n aantal ander bladsye kan hier afgelaai word.

Formaat: Aflaaibare PDF van ongeveer 2mb

227 bladsye, A4, Afrikaans