Goa, hoofsetel van die Estado da India

Au$ 11.71

Product Code: 978-1-920-42918-8

Goa, die Portugese hoofsetel van die Estado da India, 1510-1961

Goa, die eens florerende handelsentrum aan die Malabarkus van Indië en hoofsetel van die Portugese Ryk in die Ooste, het ook ’n direkte verband met Suid-Afrika. Die Portugese onderkonings of goewerneurs in Goa se invloedsfeer het, van 1510 totdat die Nederlanders in 1652 ’n verversingspos aan die Kaap die Goeie Hoop gestig het, weswaarts tot net verby Cabo da Boa Esperança, die huidige Tafelbaai, gestrek. Die Suidooskus van Afrika, wat die kuslyn van Mosambiek, die huidige KwaZulu-Natal en groot gedeeltes van die Oos-Kaap ingesluit het, het tot so laat as 1752 nog onder Goa geval, maar sedert daardie jaar het dit deel van die invloedsfeer van die koning van Portugal uitgemaak.

Van Goa se glorier-dae is vandag weinig te sien. Beenwit kerke en somber murasies kaats die beeld van die lang en ingewikkelde lewe van Goa, vandag 'n plek aan die soom van 'n gulsige woud wat voortdurend om die onsekere oopte teruggekap moet word; 'n vergange afskynsel van 'n Europese stad op 'n riviereiland in Indië - eens vir Portugal van groter belang as Lissabon. Dit is 'n plek, 'n werklikheid, maar die groot gedagte is uitgedroom.

Die wit kerke word vir die toekoms bewaar, maar, sonder die stadsomgewing waarmee hulle verweefd was, stamel hulle onsamehangend oor 'n vervaagde verlede in 'n ampervergete taal - saam met Maleis die lingua franca van die Indiese Oseaan tot die 18de eeu. Nou word Portugees net opgeroep in die aaneengesnoerde name van Indiese families wat vervloë die Christelike geloof aangeneem het, oorgeloopte woorde waarvan die toenmalige betekenisse verdof het, 'n ongewone verstrengeling van teenstrydige bouwyses en talmende geure van kosse wat makgemaak is in afgeleefde koloniale kombuise.

Die kerke - en die ruïnes - herinner aan die waagmoed van die Portugese om twee oseane aan te durf om om Afrika te kon draai; die ysere wil om eie gewoonte en gebruik oral uit te leef en ander daartoe te verplig; die oordrag van 'n bekende skoonheid na 'n vreemde kus; die waan van wapen en geloof; die verbeelding van toekoms in 'n onbekende omgewing; die geringskatting van die ander; praal en hubris. Plek en mens mymer oor droom en daad - wat is, wat was, wat kon gewees het. Goa bly die spieël daarvan, ook van wat kan wees.

In hierdie boek word die verhaal vertel van die Portugese verowering van Goa van die Moslems, die opbloei en welvaart van die stad, die geleidelike agteruitgang, die uiteindelike verval en die ontruiming van die eens florerende hoofsetel van die Estado da India.

Die boek beslaan 89 bladsye onder die volgende hoofde:

  • Voorwoord
  • Ligging en naam van Goa
  • Ontdekking van die seeweg na Indië, 1498
  • ’n Lang geskiedenis van Goa voor die koms van die Portugese
  • Afonso de Albuquerque verower Goa, 1510
  • De Albuquerque se dood in 1515 en sy nalatenskap
  • Enkele deurlugtige en minder deurlugtige opvolgers van De Albuquerque
  • Goa word formeel die hoofstad van die Estado da Índia, 1530
  • Goa en Suidoos-Afrika
  • Bevolkingsgetalle
  • Huwelike met die plaaslike bevolking aangemoedig
  • Stadsuitleg en voorkoms
  • Administrasie en verdediging van Goa
  • Goa as belangrike handelsentrum in die Ooste
  • Die Rooms-Katolieke Kerk as bepalende faktor in Goa
  • Karakter en lewenswyse van die Goanese
  • Vermaarde inwoners van en besoekers aan Goa
  • Verval van Goa en Panjim (Panaji) word die hoofstad, 1843
  • Indië verower Goa, 1961
  • Wêrelderfenisterrein, 1986
  • Slot

 

'n Lys van die Onderkonings en goewerneurs van Portugees-Indië, 1505-1961 word in 'n bylaag verskaf, terwyl die boek met 'n Bronnelys en Register afgerond word.

Die boek bevat ook 'n vyftigtal fotos, sketse en kaarte.

Die Inhoudsopgawe en Voorwoord kan hier afgelaai word.

Formaat : Aflaaibare PDF lêer (±15mb, ge-zip)
Bladsye : 89 (in Afrikaans)
ISBN : 978-1-920429-18-8