Kruger in Lourenço Marques (Afr.)

Au$ 14.64

Product Code: 978-1-920429-72-0

Kruger in Lourenço Marques (in Afrikaans)
In hierdie deeglik nagevorste pragboek beskryf Cobus (OJO) Ferreira President Kruger se verblyf in Mosambiek gedurende September en Oktober 1900. Sommige skrywers het hulle in die verlede skerp uitgelaat oor hoe sleg die Portugese owerheid Kruger behandel het. In hierdie boek neem Ferreira 'n meer genuanseerde benadering, waarin hy toon dat hoewel die Portugese se optrede beslis nie onberispelik was nie, daar nie sprake van vyandigheid of selfs onverskilligheid was nie. Argivale bronne asook ander publikasies toon die teendeel - daar was duidelik 'n konsekwente en onderliggende simpatie teenoor Kruger en die Boere-saak. As voorbeeld beklemtoon Ferreira die sterk band tussen Kruger en JJ Machado (die voormalige Goewerneur-generaal van Mosambiek), sowel as die Goewerneur van Lourenço Marques (AJ Machado).

Die boek plaas ook die ingewikkelde politieke dinamiek tussen Portugal, die Boererepublieke, Nederland en Engeland in konteks. Die aksies van Gerald Pott (gelyktydig die Konsul-generaal in Lourenço Marques vir Nederland, die ZAR en die OVS) word byvoorbeeld uitgelig. Besondere aandag word ook geskenk aan die invloedryke rolle van die twee Machado-broers (Goewerneur-gnl. JJ en Goewerneur AJ Machado).

Die boek is in drie hoofdele verdeel. Die eerste deel beskryf die aanloop na Kruger se tyd in Lourenço Marques: Die gebeure om die vertrek uit Pretoria, die tydelike regeringsetel in Machadodorp en Nelspruit se rol as oorgang-regeringsetel. Die tweede deel bespreek die treinrit na Lourenço Marques, die rol van die Britse konsulaat in Lourenço Marques, Kruger se verblyf in Goewerneur Machado se woning, en sy vertrek vanaf Mosambiek na Nederland aan boord die Gelderland. In die finale hoofstuk som Ferreira die sleutelgebeure van September-Oktober 1900 op en bied refleksie daarop.

Met meer as 30 historiese foto’s (o.a. verskaf deur die Kruger-museum, die Portugese Nasionale Militêre Argief en die Portugese Maritieme Argief), sowel as 'n omvattende bibliografie en indeks, is hierdie pragboek 'n onontbeerlike bron vir almal wat in hierdie tydperk van Suid-Afrikaanse geskiedenis belangstel.

Die Inhoudsopgawe en Voorwoord kan hier afglaai word.

Bladsye:   80 (Afrikaans)

Formaat:  Aflaaibare PDF (±6Mb)